Laerskool Randfontein is nog altyd trots op sy Christelike karakter en poog deurgaans om leerders as Godgeskape wesens tot volle ontplooiing van hul vermoë en aanleg te begelei. Christelike waardes en norme moet dus aangeleer word om hulle tot eer van God as’t ware Christene te ontplooi.
Akademiegewys word leerders volgens hulle vermoë begelei tot die optimale verwerwing van:
- Kennis
- Insig en begrip
- Abstrakte denkpatrone
- Selfstandige en kritiese denke
- Denkvaardigheid en positiewe studiegeleenthede
Die skep van ‘n geborge skoolomgewing en ‘n goed georganiseerde en gedissiplineerde organisatoriese klimaat is by RAM ‘n hoë prioriteit. Die beheerliggaam se strewe om net die beste onderwysers vir die leerders beskikbaar te stel, dra by tot ons strewe om die onderrigpeil so hoog moontlik te kry deur sillabusinterpretering korrek te doen, deeglik voorbereid te wees asook die beste tegnieke en hulpmiddels aan te wend.
Die toepassing van ‘n inklusiewe stelsel van differensiasie waardeur realistiese eise aan die leerders gestel word en gediffirensieerde onderrig geskoei is op die besondere en spesifieke kennis van elke leerder en sy sosio-ekonomiese en kulturele agtergrond is ‘n verdere prioritiet by ons.
‘n Deeglike beplande akademiese jaarprogram maak voorsiening vir ‘n beplande en beproefde struktuur van formatiewe en summatiewe assessering deur ‘n effektiewe stelsel van leerderassessering en toetssisteem daar te stel wat positief korreleer met eksterne meetmiddels soos wiskunde- en wetenskap olimpiades, leesweke, spelling- en tafelkompetisies ens.
Ons glo dat die suksesse wat ons behaal nie noodwendig in graad 7 behaal word nie, maar die bewyse is in die aantal oud Rammies wat matriek slaag, universiteitstoelating verwerf of ‘n aantal onderskeidings vewerf in die matriekeksamen en die diep spore wat hulle reeds in die samelewing getrap het.